Moderne kuns

Vincent van Gogh, Country Road in Provence by Night, 1889, Mei 1890, Kröller-Müller Museum

Moderne kuns sluit kunswerke in wat gedurende die tydperk van ongeveer die 1860's tot 1970's geskep is, en dui op die styl en filosofie van die kuns wat uit daardie era dateer.[1] Die term hou gewoonlik verband met kuns wat in 'n gees van eksperimentering met die tradisies van die verlede weggedoen het.[2] Moderne kunstenaars het geëksperimenteer met nuwe maniere van sien, en met vars idees oor die aard van materiale en funksies van kuns. 'n Neiging weg van die narratief, 'n kenmerk van die tradisionele kunste, in die rigting van abstraksie is tiperend van baie moderne kuns. Meer onlangse kunswerke word dikwels kontemporêre kuns of postmoderne kuns genoem.

Moderne kuns met die nalatenskap van skilders soos Vincent van Gogh, Paul Cézanne, Paul Gauguin, Georges Seurat en Henri de Toulouse-Lautrec begin, almal kunstenaars wat noodsaaklik vir die ontwikkeling van moderne kuns was. Aan die begin van die 20ste eeu het Henri Matisse en verskeie ander jong kunstenaars, insluitend die pre-kubiste Georges Braque, André Derain, Raoul Dufy, Jean Metzinger en Maurice de Vlaminck, die Paryse kunswêreld gerevolusioneer met "wilde", veelkleurige, ekspressiewe landskappe en figuurskilderye wat deur kritici Fauvisme genoem is. Matisse se twee weergawes van The Dance was 'n strategiese punt in sy loopbaan en in die ontwikkeling van moderne kuns.[3] Dit weerspieël Matisse se aanvanklike fassinasie met primitiewe kuns: die intense warm kleur van die figure teen die koel blou-groen agtergrond en die ritmiese opeenvolging van die dansende naakfigure kommunikeer die gevoelens van emosionele bevryding en hedonisme.

Aanvanklik beïnvloed deur Toulouse-Lautrec, Gauguin en ander laat 19de-eeuse innoveerders, was Pablo Picasso se eerste kubistiese skilderye op Cézanne se idee gebaseer dat alle uitbeeldings van die natuur tot drie vaste liggame herlei kon word: die kubus, sfeer en keël. Met sy skildery Les Demoiselles d'avignon (1907) het Picasso op dramatiese wyse 'n ruwe en radikale prentjie geskep waarin 'n rou en primitiewe bordeeltoneel met vyf wild geskilderde prostitute uitgebeeld word. Van ongeveer 1908 tot 1912 is analitiese kubisme gesamentlik deur Picasso en Georges Braque ontwikkel. 'n Voorbeeld hiervan is Violin and Candlestick, Paris. Analitiese kubisme, die eerste duidelike manifestasie van kubisme, is deur sintetiese kubisme gevolg. Braque, Picasso, Fernand Léger, Juan Gris, Albert Gleizes, Marcel Duchamp en verskeie ander kunstenaars het hierdie kunsvorm tot in die 1920's beoefen. Sintetiese kubisme word deur die bekendstelling van verskillende teksture, oppervlakke, collage-elemente, papier collé en 'n groot verskeidenheid gemengde materiale gekenmerk.[verwysing benodig]

Die idees rondom moderne kuns is nou verwant aan modernisme.[4]

  1. Atkins 1990, p. 102.
  2. Gombrich 1958, p. 419.
  3. Russell T. Clement.
  4. "One way of understanding the relation of the terms 'modern,' 'modernity,' and 'modernism' is that aesthetic modernism is a form of art characteristic of high or actualized late modernity, that is, of that period in which social, economic, and cultural life in the widest sense [was] revolutionized by modernity … [this means] that modernist art is scarcely thinkable outside the context of the modernized society of the late nineteenth and twentieth centuries.

Developed by StudentB